MABUASEHUBE MADNESS

Return to: Idle Talk

Come chat with us in the forum. Click here to register an account or if you are already registered click here to log in.

  • Dr Charl Theart
    Dr Charl TheartParticipant

    As ‘n gesin, wat sedert 1994 Botswana verskeie kere besoek het, bly dit steeds vir my, persoonlik, en vir ons as gesin, ’n unieke ervaring om die ongereptheid van die omgewing met elke nuwe besoek weer opnuut te beleef. Die opgewondenheid wat met elke beplanning gepaard gaan verander nooit nie, en raak inteendeel net meer en meer intens met elke besoek. So was dit dan ook toe vriende ons gevra het om hulle in 2016 aan Mabuasehube te gaan voorstel. Die beplanning het al in Oktober 2015 begin. Dit was vir my opvallend hoe dit met elke nuwe besoek, nou al ons 5de keer, moeiliker en moeiliker raak om plek te kry om daar te kamp. Toe ons die eerste keer Mabua in 2002 besoek het, was dit eerder ‘n geval van wanneer wil julle ons park besoek, en nie dat die kampplekke wat julle soek, reeds volbespreek is nie.

    Ons het al toere van Namibië se Kaokoland, noorde van Botswana se Moremi, Savuti, Chobe en Zimbabwe se Matusadona en Mana Pools gedoen, maar nadat ons (seker die hoogtepunt van al ons toere in 2008) by Mpyathutlwa pan beleef het dat tien leeus vir drie dae rondom die daktent se leer geslaap, deur die kampplek geloop en gespeel het, het ons besef dat geen ander trip ooit weer dieselfde sou kon wees nie. Hierdie leeus het, behalwe dat hulle ons bure se stort afgepluk en die Tupperware houer met hulle eetgerei daarin weggedra het, hulle nie eintlik aan ons gesteur nie en hulle normale gang gegaan. Ons het selfs een aand besluit om vuur te maak en vleis te braai met die tien wat +/- 20m van ons af gelê het. So ‘n belewenis is iets wat ons altyd sal bybly as die ervaring van ‘n leeftyd.

    Terug by die huis, het ons in die Weg, SA4x4 en Getaway en al wat ’n ander tydskrif is gelees dat hierdie tipe belewenisse meer en meer algemeen deur besoekers ook beleef word. Twee jaar later, tydens nog ‘n besoek aan Mabua, het ons dit weer beleef dat leeus deur ons kampplek loop. Hierdie soort ervaring met leeus in en om die kampplekke, wat dan ook wyd in meeste tydskrifte gepubliseer word, het (volgens my) die besoeke aan Mabua tienvoudig laat toeneem.

    Aangesien daar ‘n steeds groeiende getal toeriste is wat hierdie afgeleë plekke besoek, word daar meer en meer klagtes ontvang van hoe ons Suid Afrikaners in die veld optree. Nadat ek in die Augustus en September 2017 uitgawes van die SA 4×4 tydskrif artikels rakende die “Overlander’s Code”, geskryf deur die Redakteur van die tydskrif, gelees het, het ek besluit om hierdie artikel te skryf.

    So is die besprekings gemaak en moes ons maar (on)geduldig die 10 maande afwag voor ons vertrek in Aug 2016. Ons het die eerste 4 aande by Lesoloago 2 gekamp, wat weereens hemels was aangesien (en wat Mabua so spesiaal maak) ons al mense by die kampplek was; en met slegs twee ander kampeerders by Leso 1. Met ons tweede dag by Leso het ons die dag gaan rondry en ‘n paar leeus op hulle wittebrood by Mabua pan raakgeloop. Wat ‘n ongelooflike groot mannetjie met sy bruid!

    Omdat daar nie water by Mabua pan was nie, het van die mense by Leso kom water haal en so het ons toe ‘n groepie mense ontmoet met twee wit Discovery voertuie (Reg no CAR …) wat kom water haal het. Ons het verneem dat hulle boere was van Clanwilliam distrik.

    Die volgende middag het ons gaan rondry en toe weer op die twee leeus afgekom. Daar was reeds toeriste voor ons wat met hul voertuig se twee linker wiele op die sandwal, na links, uit die pad getrek was. Ons het dieselfde gedoen en ‘n hele tydjie daar vertoef toe die mense met die Discoverys, wat ons vroeër ontmoet het, van voor aangery kom. Hulle het sowat ‘n halwe kilometer daarvandaan by Mabua pan kampeer en was dus ooglopend bewus van die leeus, aangesien hulle nie eers gestop het om na die leeus te kyk nie. Met ‘n bier in die hand het die bestuurder, sonder om te stop, so naby aan ons voertuig verbygery dat die kant spieëls teen mekaar gekap het. Hy het nie eers gestop nie, maar sy passasier wat agter gesit het darem “Sorry, sorry” so in die verbygaan, uitgeroep.

    Hierdie mense, wat deel van ‘n groot groep van vier voertuie was, was die volgende oggend aan die oppak toe ons daar verbygery het. Dit het my opgeval dat daar ses swartsakke vol rommel onder ‘n boom by die kampplek gestapel was. Ek het toe nog die opmerking aan my gesin gemaak (almal in die voertuig het gesê dat ek verkeerd was) dat ek van mening was dat hulle nie hul rommel met hulle sou saamneem soos dit besoekers wat in Mabua kamp sou betaam nie. (Veld etiek is “take only pictures and leave only footprints”.) Toe ons later die middag daar verby ry, was my vrese bewaarheid. Van die sakke was reeds weggedra en oopgeskeur, met vuilgoed en plastieksakke wat die wêreld rondgewaai het. Ons het gesien hoedat een v/d baba grondeekhorinkies ‘n plastieksak in hul nes indra.

    ‘n Paar dae later met ons aankoms by Mapaathutlwa 2 kampplek, het ons hierdie brief, geskryf op ‘n A4 papier en onder ‘n klip op die sement vloer v/d A-raam skuiling, gekry.

    Dit lees soos volg: “Dear Mapaya 2 residents. Last night we were visited by 3 gorgeous, huge lionesses as we were sitting at our fire +/-9.20 pm. They came to drink at the tap. The marks you can see are their paws and their tails: 2 on one side, and 1 on the other side. It was a privilege to share time with them and we thought it would be interesting to you to understand the strange tracks at the tap. Enjoy this special camp and park; it is an unspoilt piece of God’s earth. – James & Sam Pinnell, KZN SA.

    Omdat ons die groot voorreg gehad het om ‘n soortgelyke ondervinding te kon beleef en presies geweet het waarvan hulle praat, was hierdie brief in skrille kontras met ons vroeëre onaangenaamheid met die ander besoekers.

    Met my noue betrokkenheid met mense in my professie, is daar altyd die tweestryd tussen hoe mense optree en my hunkering om bietjie weg te kom van hoe hulle optree. Dit is dan wanneer plekke soos Mabua uitkoms bied aan my verlange na die ongereptheid van die natuur. Ek kom net weer opnuut tot die besef van hoe verskillend mense is en optree. So is daar dan seker ook baie uiteenlopende tipe mense wat Mabua besoek.

    Gelukkig is daar darem nog mense met ‘n regte sin van waarde en wat om die regte redes diè wonderlike Godgegewe plek besoek.

    Dit bly egter ‘n groot voorreg en nie ‘n reg om dit te kan doen nie.

Come chat with us in the forum. Click here to register an account or if you are already registered click here to log in.